Wine painting

Die hoitie-toitie wynproewer – en die kommin biker

In die dae voor Facebook moes mens actually van aangesig tot aangesig met iemand gesels om hulle te leer ken. Deesdae, danksy Facebook, is dit baie maklik om iemand op sy baadjie (of selfs sy bike) te takseer nog lank voordat jy die arme drommel persoonlik en in lewende lywe ontmoet het.

My onlangse ondervinding van hierdie einste op-die-baadjie-taksering, het my geinspireer om hierdie storie te skryf. Maar eers, so ‘n bietjie agtergrond…

Die Wille Weste
Die Wille Weste, en die treinspoor

Ek het groot geword in die Wille Weste van Pretoria, aan die verkeerde kant van die treinspoor. Ma en Pa is geskei toe ek vyf jaar oud was, en ek het by Ma opgeeindig in Pretoria-Wes. Omdat ons dit nie breed gehad het nie, was Ma se geleenthede om in die ryker sosiale kringe te beweeg maar skraal.

In teenstelling hiermee het my Pa (wat ek baie min gesien het) blykbaar vreeslik gewheel en gedeal en homself tot ons, en veral sy eie groot verbasing eventually in Waterkoof aan die regte kant van die treinspoor bevind.

Snobby lady
What-what-what, daahling.

Al kon jy my mooi aantrek maar nêrens heen vat nie, het dit dus tog soms gebeur dat ek myself aan die tafel van hoitie-toitie mense in die Oostelike Voorstede bevind het. Ek het gou geleer hoe om al die baie eetgerei te gebruik (van buite na binne werk kwaai), en ook hoe om met my neus in die lug te loop asof ek iets ruik wat verskriklik stink.

Ná so ‘n naweek weg was ek uit die aard van die saak ‘n regte klein pyn in die gat wanneer ek weer terug was by die huis in Pretoria-Wes. Ma het vinnig-vinnig my tjank afgetrap met die hulp van either die vlieëplak, die paplepel, of wat ookal binne gryp-afstand was.

Sy het definitief nie tyd gehad vir aansitterigheid of aanstellerigheid nie. Toe ek vreeslik beindruk van ‘n naweek in Waterkloof af terugkom, en haar vertel dat ons ‘calamari met goue eetgerei genuttig het’, het sy my gou terug aarde gebring met “My kind, hier in Patata-Wes eet ons sommer poepolvrug met plastic eetgerei. Gaan loop koop vir my sigrêts by die kêffie. En trek reg jou gevreet.”

Antie Stienie
Antie Stienie – weet nie hoekom ons altyd so moet suffer nie

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ma was nou nie heeltemal Antie Stienie personified nie, maar sy was wel pêlle met mense wat vir Antie Stienie goed geken het. Andersins was Ma eintlik half ordentlik.

Ek kon later lekker inblend aan enige kant van die treinspoor. Tee drink uit ‘n servies met my pinkie in die lug; Frisco koffie slurp uit ‘n blikbeker. What-what-what fênsie wyn drink uit ‘n kristalglas; goedkoop wyn suip uit ‘n boks. (Ek hou eintlik glad nie van drink nie, net vir die rekord. My stiefpa het my mooi gewys hoe lyk alkoholisme, baie dankie.)

Deur die jare het ek al vreeslik lekker in my mou gelag vir die hoitie-toitie mense se definisie van swaarkry. Swaarkry in Waterkloof beteken jy kan nie dié maand daardie R20,000 koffietafel koop nie. Swaarkry in Pretoria-Wes beteken daar’s drank in die huis, maar nie kos nie.

(Nota: Al is ek white collar, kan ek enige tyd blue collar praat, my bra. Ek tune jou, ek sê. Want ek is ‘n undercover skermunkel. En boonop nog steeds ‘n biker at heart. Jy maak uit?)

Stefan - proewer van wyn
Stefan – proewer van wyn; groot takseerder van baadjies

Nou die dag loop ek myself per ongeluk vas in ‘n lot aanstellerige, hoitie-toitie, suurpruim Afrikaners wat deel vorm van ‘n geslote en baie eksklusiewe Facebook groep. Die stigter van die blad (kom ons noem hom sommer Stefan – né, Stefan?) sal jou sommer gou-gou op jou baadjie takseer – en op Facebook gaan kyk na wat jy lees, watse flieks jy van hou, watse musiek jy na luister, en wat jy eet en drink – asook wáár jy dit eet en drink. Stigter Stefan is ook baie gesteld op die wyn wat hy (en veral jy, natuurlik) drink, in watter voorstad jy bly, hoe onberispelik jy jou taal gebruik en in watse voertuig jy jouself mee punt A tot punt B.

Omdat ek dié ambush glad nie verwag het nie, en oor die algemeen my pretensielose self is op Facebook, het ek die Stefan-toets sleg gedop. Daar was hoegenaamd nie tyd om in te blend nie, sien.

Motorcycle burn-out in living room
Stefan se ‘mental image’ van bikers oor die algemeen

Stigter Stefan het heel moontlik amper die aapstuipe gekry toe hy sien ek ry ‘n bike (oftewel, ek het tot onlangs, maar moes haar verkoop) en ek luister soms na Steve se songs. ‘n Facebook cover foto van ‘n DDM (‘n Duur Duitse Motor), die lees van verskeie digbundels en die luister na klassieke musiek sou Stigter Stefan definitief baie meer beindruk het, maar daar vang hy my toe uit, totaal weerloos sonder my camo. En takseer hy my summier as ‘n fieta en ‘n jafel, ‘n oliebesmeerde, kettingswaaiende ducktail van ‘n kommin biker. Wat boonop na Steve se songs luister, to add insult to injury. Die hemele behoed sy eksklusiewe geslote Facebook groep.

Ek was bitter teleurgesteld. Net daar mis ek wragtag uit op nog ‘n geleentheid om myself as hoitie-toitie en neus-in-die-lug voor te doen – gekultiveerd, afgerond en beskaafd. What-what-what fênsie wyn te drink terwyl iemand hoogdrawend uit ‘n digbundel versies voorlees. My mooi te kon aantrek EN my actually iewers heen te kon vat sonder om gruwelooslik skaam te kry.

By nabetragting was dit dalk ‘n bestiering dat ek Stigter Stefan & Kie se baadjie-takserings-toets gedruip het. Sou ek geslaag het (en as Ma nog gelewe het) sou my gat kort voor lank in elk geval London geskree het soos wat sy die geite uit my uitmoer met die vlieëplak en/of die paplepel – of wat ookal binne grypafstand mag wees. Of ek nou al amper 50 is, of te not (en dan sou ek vir haar moes gaan sigrêts koop, brandende boude en al ook nog).

As gevolg van mistaken identity en in die totale afwesigheid van Facebook toentertyd, is Ma jare gelede per moerse ongeluk uitgenooi na ‘n hoitie-toitie ete by ‘n fênsie restaurant. Imagine Stigter Stefan & Kie as gashere, maar totaal onvoorbereid en hulpeloos sonder die voordeel van Stigter Stefan se pre-Facebook-baadjie-taksering.

Dit het sommer vinnig uitgeloop op iets wat almal daar teenwoordig, vir altyd en ewig sal bybly.

Toe die kelner vir Ma vra of sy ‘n glasie van die 1974 Chateau de Whatever rooiwyn wou hê, kap Ma terug in ‘n skril stem wat almal in hulle spore stop:

“Is jy van jou SINNE beroof, mannetjie? Vir wat sal ek sulke ou wyn wil syp? Bring vir my vars wyn – tap hom sommer net so yt die boks!”

Hoe ek wyn drink meme final

En nog was het einde niet…

Daar word aangesit vir ete, en dieselfde kelner van netnou vra baie beleefd vir Ma: “Sop vir u, Mevrou?”

Ma se kop hak sommer heeltemal uit:

“’Sop vir my?! ‘SOP vir MY?!! PASOP vir JOU, mannetjie!! Ek sal mos vir jou HARD bliksem!!”

Sop vir u mevrou meme final

Dankie vir die lewensles, Ma. Wees maar net jouself, dink ek.


Het jy die artikel geniet? Sluit aan by ons op ons Facebook blad, waar jy nog meer pret kan hê (en as jy dalk Engels is, het ons fun ook beskikbaar).

  • Son

    Ek het nou kliphard gelag hier in my kantoor! Jou skryfstyl is goed en ek kan my die hele Stefan en kie episode voorstel. Geld kon nog nooit klas koop nie, en ek vermoed daar is baie kommin bikers met meer klas in hul pinkie as sommige Stefans in hulle la-di-da Duitse motors!