In memoriam

Ons onthou jou – met ‘n lag, en ‘n traan

Ons mis jou

Dis amper die middel van Desember 2014; dit raak rustiger by die werk, en dalk selfs ook by jou huis. In die skielike rustigheid en stilte begin ons terugkyk na die jaar wat was, en nog meer so na die spesiale mense wat was.

Ons mis jou. Ons beste pêl, ons liefste Ma of Pa, sussa, boeta, ouma, oupa – mense wat ons verskriklik gaan mis hierdie komende Kersfees omdat hy of sy nie meer met ons is nie.

Groot geeste het ons verlaat dié jaar; hulle stempel diep afgedruk op duisende mense. Sedert Robin Williams se dood het my eie uitkyk op die lewe verander na:

Carpe diem, seize the day
gather ye rosebuds while ye may
strive to find your own voice
seize the day

(Uit Dead Poet’s Society)

Op eie bodem moes ons ook vanjaar totsiens sê aan Liewe Heksie (en Blommie die kabouter), nadat Tannie Verna Vels ‘n moedige stryd teen kanker verloor het. Ons het ‘n groot deel van ons kindwees vir altyd verloor met haar dood.

Vir baie is die spesiale mens wat jy gaan mis nie noodwendig ‘n stêr of ‘n bekende persoonlikheid nie, maar iemand wat ‘n besondere plek in jou hart beklee. Een saam met wie jy lief en leed gedeel het, en ‘n blywende indruk op jou gemaak het; dalk selfs jou lewe se rigting totaal verander het. Aan hulle bring ons hulde met hierdie artikel.

Mag julle almal ‘n geseënde feestyd beleef. Omring jouself met geliefdes wat nog hier is, sodat jy hulle voluit kan waardeer.

Groetnis,

Ian de Jager
Trivia SA stigter


In memoriam: Quinton du Toit

deur Hugo du Toit (hugodutoit86@gmail.com)

Ek was ‘n stout kind (mens kry mos “soet” stout en dan pleinweg stout!)

Gelukkig het ek (meestal) binne die eerste kategorie geval. My grootword jare was op ‘n klein myndorpie waar skaars ‘n paar honderd mense woonagtig was. Ek woon steeds hier vandag.

Die dorpie is geleë so drie kilometer vanaf die Krokodilrivier. Dis hier waar ek en my neefs grootgeword het. Hier sou ons visvang, kleilat gooi, vuur maak en natuurlik braai.

Skoolvakansies sou ons oorslaap en mekaar bang gesels met ‘n paar spookstories langs die bosveldvuur. Natuurlik was dit nooit nodig vir bad of stort nie want ons was heeldag in die rivier!

Selfs in ons klein dorpie was daar baie om ons jongklomp mee besig te hou. So het ons gegroei en is ons Höerskool toe.

Quinton du Toit
Quinton du Toit

Ek en my neef Quinton (ek was ‘n jaar jonger as hy) was byna onafskeidbaar van kleintyd af. Op 15-jarige ouderdom begin ons twee motorfiets ry – ek met n ou Honda 50cc en Quinton met ‘n 185cc. Nugter alleen weet watter tipe motorfiets syne was maar dit was groter as myne!

Hy sou altyd in die aand rondrits met ‘n lang swart leerjas. Sodra hy dan bietjie spoed optel het daai jas gewapper in die wind en was hy in ekstase! Op sestien was dit die lewe! Die ironie van die saak was – sodra sy motorfiets gery het, het myne gestaan en vice versa. Ons was dus meer agterop mekaar se fietse as wat ons voor op ons eie was.

Daardie tyd was die sakgeld maar bietjie knap so hoe gemaak met ‘n motorfiets maar geen geld vir brandstof? Baie maklik: gaan kuier binne ‘n halfuur vir al die vriende en familie in die dorp en kollekteer al wat ‘n 1,25 liter koeldrankbottel is. Gee dit in by die winkel en siedaar! ‘n Tenk vol brandstof!

So gebeur dit toe uiteindelik – die eerste dag wat altwee fietse gelyktydig rybaar is breek aan. Ons sit reguit af petrolpompe toe met twee rugsakke vol 1,25 liter koeldrankbottels. Daar gekom kon ons altwee motorfietse se pense net-net volmaak.

Ek ry voor en skielik skiet Quinton soos n lem verby my met sy brullende 185cc. In die verbygaan word daar sommer vir my gewaai ook. Ek ry heel ordentlik teerpad langs terwyl hy sommer die draai kort maak veldlangs.

Na my eerste draai toe sien ek hier kom sports. Die oom op die hoek se sypaadjie was ‘n ry palmbome. Quinton het die draai te lank gevat en was reguit op pad palms toe! Met genade van Bo mis hy al die palms.

Hy tref die paal van die draadheining en als gebeur skielik in “slow motion”. Die motorfiets staan 90 grade in die lug vir wat voel soos n ewigheid. Skielik is hy weer op sy wiele en die wêreld is doodstil.

Nog voor ons ‘n woord kon uiter stap die oom wie se heining dit is nader; gesig propvol vraagtekens. Ons moes mooi verduidelik wat presies gebeur het, die fiets huis toe stoot en Quinton se vingers laat steke insit. Dit was ons eerste en laaste trippie ooit met die motorfietse!

Na ons motorfietsdae het ons soos menigte jong manne begin kyk na die skoner geslag. Heel toevallig het ons twee meisies ontmoet wat ook beste vriende was. Gelukkig vir ons het Quinton sy lisensie gekry en kon ons lekker gaan kuier by die meisies.

Pienk vollaMaar hoe gemaak sonder ‘n motor? Ons kon net die eerste maand of twee die ouers se motors bedel. Toe, op ‘n blye dag, koop Quinton se pa vir hom ‘n motor. ‘n Skel pienk Volla.

Ons was maar alte gelukkig want ons kon gaan waar ons wou wees. Die probleme het begin toe ons ‘n radio wou insit. Sommer self. Twee ure later en die Volla was amper afgebrand.

So beplan ons ‘n braai by ‘n vriend se huis. Ongelukkig is almal platsak. Maar ons is jonk en propvol energie so ons beraam stilletjies ‘n meesterplan.

Vyf pelle het mos almal ou klere wat in die kaste rondlê. ‘n Half-uur later sit ons vyf manne binne die Volla met vyf groot swart plastieksakke vol ou klere op ons skote.

Sodra ons by ‘n spoedwal kom, stop Quinton en almal klim uit. Dan beweeg hy oor die wal, stop en almal klim terug! Ons het so aangesukkel vir 12km tot by ‘n nedersetting buite ons dorpie.

Die Volla se deure swaai oop en ons peul uit met sakke vol klere en dis totale chaos. R5 vir ‘n broek hier, R20 vir ‘n hemp daar. Na tien minute was ons sonder baie klere maar met baie meer geld!

Quinton is vroeg-oggend in September 2004 oorlede in ‘n motorongeluk op die rype ouderdom van negentien. As elke kind vandag ‘n vriend soos Quinton kan vind, glo ek die wêreld sal vir almal ‘n baie beter plek wees.

Hugo du Toit
Hugo du Toit