Die saga van die groot perd sleep

Die saga van die groot ‘perd sleep’

Dit het alles begin toe ons hierdie advertensie op Facebook raakgelees het op 1 Julie 2015:

Perd sleep advertensie
Ons gaan ‘n hele perd vol “grass burns” hê na hierdie episode…

Nou ja. As die perd gesleep moet word, dan maak ons maar ‘n plan, wat.

Ons begin toe ons Bakkiesblad opdateer met die vordering…


Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #1
Die oggend van 1 Julie 2015, in Louis Trichardt

11h00:
Gesleep sedert 05h00 vanoggend (dis nou al 11h00). Tans ± 300 meter van die stal af; PTA nog baie ver.

Perd wil bly opstaan. Sal kans vat en perd bietjie laat staan sodra buite sig is van die perd se baas.

Die heel eerste foto van die groot "Perd Sleep". PTA is ver, en die son trek water.
Die heel eerste foto van die groot “Perd Sleep”. PTA is ver, en die son trek water.

En ons sleep, terwyl ons sing:

O, ek weet van ‘n perd,
‘n blink vosperd,
ek hoop nie hy’t ‘n saal,

en ek sleep die perd,
die blink vosperd,
hy het toe nie ‘n saal,

Want die (perd se) baas het gesê,
as ek geld wil hê,
dan moet ek hom kom sleep,

die mooi ryperd,
die blink vos perd,
gelukkig nie ‘n saal.


Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #2
Die middag van 1 Julie 2015, by ‘n padstal naby Louis Trichardt

13h25:
Vriendelike kat by padstal raakgeloop.
Perd omgedraai na sy ander kant toe.
Gaan nou wortels loop soek.

Die vriendelike kat by die padstal, naby Louis Trichardt.
Die vriendelike kat by die padstal, naby Louis Trichardt.

Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #3
Die middag van 1 Julie 2015, by ‘n padstal naby Louis Trichardt

15h25:
Ons speel wegkruipertjie agter die padstal.
Al die veld dis vrolik. Al die voëltjies sing.
Blok myself.

Die perd speel wegkruipertjie.
Die perd speel wegkruipertjie.

Die perd plaas die volgende foto in die comments op ons Bakkiesblad:

Die perd se "photo comment" op ons Trivia SA Bakkiesblad.
Die perd se “photo comment” op ons Trivia SA Bakkiesblad.

Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #4
Die aand van 1 Julie 2015, in ‘n kroeg op Bandelierkop

18h25:
Ons het perd gesleep tot in Bandelierkop vanaand.
Kroegman vra vir perd: “Hoekom die lang gesig?
Perd: “RMGA!!!
(RMGA = runnik my gat af)
Perd: “Julle HOEF nie te lag nie…

Perd se gunsteling drank: White Horse Whiskey. Ons kon seker geraai het.
Perd se gunsteling drank: White Horse Whiskey. Ons kon seker geraai het.

Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #5
Die aand van 1 Julie 2015, Bandelierkop

20h30:
Ons het die drama “The Godfather” begin kyk.
Perd het halfpad totaal uitgefreak en beweer dis ‘n riller.
Kyk tans maar alleen weer verder.

"The Godfather" mag miskien 'n drama wees - maar dis 'n riller as jy 'n perd is.
“The Godfather” mag miskien ‘n drama wees – maar dis ‘n riller as jy ‘n perd is.

Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #6
Die aand van 1 Julie 2015, Bandelierkop

22h00:
‘n Paar perde ontmoet by die kroeg vanaand.
White Horse whiskey saam hulle gesuip (teen my sin).
More afspraak in Polokwane. Met ‘n Horse Whisperer.

Dit was 'n lang sleep tot hier.
Dit was ‘n lang sleep tot hier.

Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #7
Die oggend van 2 Julie 2015, by die Horse Whisperer in Polokwane

Perd se hangover

09h00:
Horse Whisperer fluister: “Hallo perd. Cool blinddoek!

Perd: “Thanks man. Ek het ‘n lang hangover vanoggend. Dankie tog, ek kan my perdesterte dank dat jy fluister vir ‘n lewe.

(‘n Persiese kat kom oor die dik kikuyu grasperk aangestroll.)

Perd: “AAARGH!! Kan jy ASSEBLIEF die OLIFANT uit jou spreekkamer verwyder?!

Horse Whisperer fluister: “Sorry perd. Wat het jy gesuip gisteraand?

Perd: “Drie emmers White Horse Whiskey. Ek sit nooit weer my hoewe daaraan nie!

Horse Whisperer fluister: “Ja-nee. Daai goed het ‘n skop soos ‘n… ummm… muil.

Perd: “Hey! Keep it nice! My gesuipery het niks met my skoonfamilie uit te waai nie!

Horse Whisperer fluister: “Sorry. Jy lyk ‘n bietjie bleek, amper soos ‘n… ummm… perd van ‘n ander kleur?

Perd: “Jy’s ‘n funny mannetjie jy, nè?

Horse Whisperer fluister: “Dis maar deel van my werk, ou perd. Ek sien baie perde hier, en dan kyk ek hulle in die… umm… toemaar, los maar…

Perd: “Jy wou sê ‘bek‘, nè? Lyk ek vir jou gegewe?!

Horse Whisperer fluister: “Jinne, maar jy’s vinnig op jou… umm… toemaar, los maar…

Perd: “Ek HOEF nie hierna te luister nie!

Horse Whisperer fluister: “Nee, jy… umm… hoef seker nie…

(Die Horse Whisper bring vir perd terug, en fluister: “Daar’s ‘n krip daar anderkant, vir die nadors – miskien kan jy vir perd lei tot by die water, maar ek weet nie of hy sal… umm… toemaar, los maar…“)


Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #8
Laatmiddag 3 Julie 2015, in Modimolle (Nylstroom)

Perd gesleep tot by die Horse Ranch in Modimolle.
Seker gemaak daar is DSTV (want Durban July more!! Runnik!!!)
Perd se ore vol gras van al die sleep –
het verkeerd gehoor, en dink ons gaan Durban toe.
Fancy dress aangetrek vir die July.
Gaan nou uitspan vir die naweek.
Nog geen Moddermolle gesien nie.

Opgedress vir die Durban July
Opgedress vir die Durban July

Die groot perd sleep saga – Bakkiesblad update #9
Oggend van 6 Julie 2015, in Bela Bela (Warmbad)

Perd se baas probeer bella vanaf Bela Bela.
Sy antwoord nie haar foon nie, toe WhatsAppa ons haar maar.
Perd se FB status verander na “in a stable relationship.
50 Shades of Hay gelees gisteraand. Kan nie wag vir die moewie nie.

50 Shades of Hay


Die groot perd sleep saga – (finale) Bakkiesblad update #10
Oggend van 7 Julie 2015, in Equestria (Pretoria)

Dis ‘n hele week later en ons het vir Perd suksesvol al die pad van Louis Trichardt af, tot in PTA gesleep.

Ons dink dit was ‘n hingse sukses.

Die vriendelike staljong wat vir Perd in ontvangs geneem het in Pretoria, kan net-net gesien word (regs op die foto). Jy sal egter mooi moet kyk – blykbaar kan vrouens die hings beter sien as mans.

Al het ons sowat 23 Trivianers langs die pad verloor wat gedink het ons storie is holrug gery, het ons darem weer intussen 18 splinternuwe Trivianers bygekry.

Ons innige dank aan die Trivianers wat Perd se vervolgverhaal saam met ons geniet het. Ook baie dankie aan die Perd se Baas vir die idee.

Perd is wraggieswaar 'n baie aantreklike hings.
Perd is wraggieswaar ‘n baie aantreklike hings.

En nou skakel ons weer terug na die ateljee…