Stoute Kabouter

Ons is “stoute kabouters” en hoort in die “tjoekie”

Ons het heerlik gelag toe een van ons Trivianers ons onlangs laat weet dat ons klaarblyklik in die “tjoekie” is. Trivia SA word beskryf as ‘n “stoute kabouter” op toeter (Afrikaans vir “twitter”).

Maar wag, ons loop dinge vooruit. Kom ons begin by die begin.

Indien jy gewonder het wat van ons beloofde Trivia SA kompetisies geword het…

Augustus 2014

Trivia SA maak vir die eerste keer kontak met toeter. Louise (die “Reklame Dame” by toeter), bedink ‘n oulike plan vir die bemarking van Trivia SA. Die idee is om ‘n trivia kompetisie met interessante boeke as pryse, eksklusief op toeter te loods.

Goed om te weetOns spring dadelik aan die werk en bekom sowat R6 000 se oulike boeke as pryse by Naspers vir die eerste rondte van die trivia kompetisie, op ons eie onkoste.

September en Oktober 2014

Ons sukkel om toeter se mense in die hande te kry (hierdie tendens herhaal homself keer op keer in die toekoms). Vonkposse word nie beantwoord nie, inteendeel – ons vonkposse aan toeter raak onverklaarbaar skoonveld weg. Ons laat naderhand boodskappe op toeter se Facebook bladsy uit desperaatheid.

Nuwe Geskiedenis van SAOns gee uiteindelik op en stuur die boekpryse terug aan die verskaffer – teen ‘n aansienlike verlies.

November 2014

Engela – die “Strategie Ghoeroe” by toeter laat weet ons per vonkpos: “Nie Frans (die stigter van toeter) of enige ander toeter spanlid weet iets van ‘n kompetisie, pryse van Naspers of so iets nie.”

Jinne.

Ons verskaf verskeie vonkposse as bewys van die beplande kompetisies, aan Engela.

Geen verskonings word deur toeter aangebied nie. ‘n Stilte daal neer.

Op hierdie stadium van die wedstryd sou ons dink die regte ding om te doen, is om bloot die foon op te tel en kontak te maak met jou ontevrede intekenaar/kliënt. Die “strategie” blyk egter te wees om eerder koppe in die sand te druk soos ‘n volstruis. Trek liewers toe die blindings, sluit die deure – en hoop dit waai oor.

Bill Gates - quote
Goeie advies – definitief nie iets waaraan die bestuurspan by toeter hulle veel steur nie.

(Net soos Web Africa se Uitvoerende Hoofbestuurder probeer doen het in Augustus 2014).

Maande gaan verby…

Februarie 2015

Vroeg in Februarie 2015 ontvang Trivia SA uit die bloute ‘n oproep van LJ, die “Kontekskaptein” by toeter. Hy belowe hand en mond om ons ongelukkigheid ter harte te neem, die saak “met takt en integriteit” te ondersoek en aan ons terugvoer te verskaf. Ons voorsien LJ van die agtergrond rondom die debakel, asook stawende vonkposse.

Dit raak weer doodstil.

Ons kontak LJ teen die einde van Februarie. Hy laat weet ons dat “hy steeds voorneem om die ondersoek rakende ons klagte, so gou hy kan, af te handel en aan ons voldoende terugvoer te gee.”

April 2015

Vroeg in April kontak ons weer vir LJ en doen navraag na die ondersoek rakende ons klagte. Ons ontvang geen antwoord nie.

Dit raak weer stil.

Op 19 April ontvang Trivia SA en talle ander toeter intekenaars, die volgende “bulk mail” pleidooi van Frans, toeter se stigter:

“Jy is een van baie Afrikaanse mense op toeter, so vandag vra ek jou om ons te help om nog toeter gebruikers te kry.  Sal jy asseblief dié epos aan ten minste 10 van jou familie en vriende aanstuur.  En as jy daarmee klaar is, spandeer 5 minute hierdie week om ten minste een persoon te help om ons êpp af te laai.”

Ons slaan ons hande saam.

Ongelooflik
Goeie strategie: versoek jou ongelukkigste intekenaar om jou diens te help bemark.

Nog maande gaan verby…

September 2015

Trivia SA wend verskeie pogings aan om ons Trivia SA profiel op toeter te sluit. Ons ontvang egter steeds tweeweekliks kennisgewings van mense wat by ons toeter profiel aansluit; dus is die profiel steeds aktief.

Uit desperaatheid stuur ons op 21 September 2015 ‘n vonkpos aan LJ. Hy versoek dat ons die Trivia SA gebruikersnaam en wagwoord aan hom verskaf (ja, werklik!) – en belowe weereens hand en mond dat hy werk sal maak hiervan.

Op 23 September 2015 laat weet LJ ons, dat ons toeter profiel “lekker halstarrig wil wees” – en dat sy pogings om die Trivia SA profiel te verwyder, onsuksesvol blyk te wees.

Voorts stel hy voor dat ons vonkposse en kennisgewings van toeter se kant af, bloot op ons Trivia SA vonkposbediener moet blok. Ja, regtig! 🙂

Oktober 2015

Vroeg in Oktober kontak ons weer vir LJ, aangesien Trivia SA steeds tweeweekliks kennisgewings van toeter ontvang. Die kennisgewings dui daarop dat ons toeter profiel steeds aktief is – en ook dat mense steeds op die profiel aansluit.

LJ laat weet ons dat hy nie meer by toeter werksaam is nie (?) – en dat hy ons probleem aangestuur het vir Lizelle, die “Professionele Raakvatter” by toeter.

Die gesprek met Lizelle klink in die begin belowend, aangesien sy uit die staanspoor belowe “ek gee hieraan aandag en ek hou julle op hoogte, hopelik sorteer ons die probleem sommer gou vir julle uit.”

Ons het egter ons bedenkinge.

Lizelle meld dat beide LJ asook Louise (van die trivia kompetisies), nie meer by toeter werksaam is nie (?).

Ian (Trivia SA se stigter) skryf vir Lizelle:

“Ek betwyfel dit sterk of hier enigiets van sal kom. LJ de Vos het my vroeer vanjaar (in Februarie 2015) telefonies gekontak en ook hand en mond belowe hy sou werk maak daarvan. Ek het die relevante e-mails aan hom verskaf en moeite van my kant af gedoen om die geskiedenis rondom die debakel chronologies en onpartydig aan hom voor te lê.”

“In April vanjaar (2 maande na LJ se oproep in Februarie) het ek persoonlik op verskeie geleenthede per e-pos met hom opgevolg, maar is sedertdien net begroet met ‘n oorverdowende stilte.”

“Dit blyk dat toeter se bestuurspan (voorkombare) situasies soos hierdie, tipies soos volstruise hanteer. Kop in die sand gedruk en hoop dit gaan weg.”

Op hierdie stadium is ons egter steeds vol hoop, want sien – hoe moeilik kan dit wees om iemand se profiel te verwyder?

Teen die middel van Oktober laat Lizelle ons weet dat “tegnies steeds op soek is na die probleem” en of ons nie “intussen hierdie e-posse kan blok aan julle kant nie”.

Kom ons kyk gou:

  1. Dit blyk dat die oorspronklike kommunikasiegaping in Augustus 2014, juis ontstaan het as gevolg van vonkposse wat spoorloos “verdwyn” het (geblok is deur toeter, dalk?);
  2. sou Trivia SA die kennisgewings van nuwe intekenare blok aan ons kant, gaan ons nooit weet of die probleem opgelos is, al dan nie (en in dieselfde asem, ook nooit weer enige vonkposse van toeter met betrekking tot die oplossing van die debakel, ontvang nie);
  3. ons sal dan glad nie kan bepaal of die Trivia SA profiel – waaroor ons geen beheer meer het sedert 14 September 2015 nie – steeds aktief is op toeter nie; en
  4. daar geen manier bestaan waarop ons mense wat aansluit op ons Trivia SA toeter profiel, in kennis kan stel dat die profiel veronderstel is om gesluit te wees nie.

November 2015

Soos verwag, al was ons hoopvol – raak dit tjoepstil aan Lizelle en toeter se kant.

Op 27 November 2015 bel Lizelle ons stigter uit die bloute uit en beweer dat die Trivia SA profiel op toeter gesluit is. ‘n Vinnige toets van ons kant af, bewys die teendeel. Die Trivia SA profiel is steeds aktief – en daar sluit steeds nuwe mense aan. Wat moontlik gebeur het, is dat toeter slegs ‘n manier gevind het om die kennisgewings van nuwe intekenaars, aan hulle kant te blok – sodat ons dit nie meer ontvang nie.

Desember 2015

‘n Trivia SA intekenaar laat weet ons vroeg in Desember 2015, dat toeter ons profiel verander het. Volgens toeter sien ons profiel tans as volg daarna uit:


“Hierdie toeter-profiel is nou in die tjoekie! Dié karnallie het ongelukkig Toeterville se reëls herhaaldelik oortree.”


Kom ons kyk gou na toeter se reëls:

toeter is ‘n sosiale netwerk wat vry en sonder grense is. Dit beteken dat ons nie ander mense se vryheid in gedrang sal bring in ons kommunikasie op toeter nie. Dit beteken ook dat ons nie grense om ons sal trek of om ander mense of groepe sal trek nie en so onvatsoenlik optree nie.

In die praktyk beteken dit dat geweld nie goedgepraat kan word deur enige gebruiker op toeter nie. Die gebruiker wat hierdie basiese reël oortree, sal nie deur toeter geduld word nie.

Dit beteken ook dat rassisme en rasse vooroordeel nie toegelaat sal word op toeter nie. Ons platform is om die lewe en menswees in al sy fasette te vier en nie om vure aan te steek wat brand sal stig in ons toeter gemeenskap nie.

Daarom sal ons graag wil hoor van gebruikers wat ons aandag wil vestig op enigeen wat op toeter dié reels oortree. Kliek net op onvatsoenlik by die betrokke toet.


Nee, jammer – ons kry glad nie die kloutjie by die oortjie nie. Die Trivia SA profiel op toeter bevat slegs interessante feite, kwinkslae en skerp humor.

Nêrens kry ons enige verwysing daarna dat ons iemand te lyf wou gaan nie. Ons was ook nie rassisties nie. Wat brandstigting aan betref, wel… dan was dit seker maar die probleem (sien foto)?

Wanneer jou gholf warm is


Ter opsomming

Toeter:

Julle het lekker drooggemaak, julle karnallies – en julle weet dit.

Ons stel voor –

  1. Dat die toeter bestuurspan ophou wegkruip en die pak slae vat soos ‘n man.
  2. Hou op om Trivia SA die vark in die verhaal te probeer maak.
  3. Indien julle huidige toeter span onbevoeg is om die Trivia SA profiel op toeter te verwyder, kry dan eerder kundige mense in wat dit wel kan doen.
  4. Laastens – teken persoonlik verskoning aan.

Dis tog die korrekte manier om dit te hanteer, dan nie?


Trivianers: jammer oor die kompetisies, nè?