Die prokureurs, die pornografie, en die preutse tannie

Baie jare gelede was ek as vryskut IT konsultant werksaam by ‘n prominente prokureursfirma in Pretoria.

Prokureurs is by verre dié moeilikste kliënte om te hê in die IT-bedryf, want dis mos nou nie mense wat jy sommer goedsmoeds met prokureurs kan dreig nie. Dreigemente soos dié val op dowe ore, of word summier begroet met ‘n histeriese gelaggery – gewoonlik sommer in jou eie teenwoordigheid.

Hoe dit ook al sy – in die 3 jaar wat ek verbonde was aan die spesifieke firma, was daar weinig vervelige oomblikke.

Veral tydens jaareindfunksies was dit verfrissend om te aanskou hoe die oudste van die ou tannies op die tafels dans, bloomers en pantaloons duidelik sigbaar.

Of om eerstehands oopmond te beleef hoe van die direksielede Robbie Wessels se Leeuloop met groot oorgawe en entoesiasme uitvoer, belde ontgord en styf tussen die boude vasgeknyp.

Op ‘n dag kom ek agter dat daar heelwat van die firma se Internetbandwydte gebruik word om ‘ongure’ webtuistes te besoek, veral na-ure. Soos wat dit ‘n goeie IT konsultant betaam, maak ek toe maar alarm by die firma se rekenaarkomitee.

Verskeie breë glimlagge word met groot moeite onderdruk, en ek word met die nodige erns (soos wat dit professionele prokureurs betaam) amptelik toestemming verleen om verdere ondersoek in te stel.

Ek was maar bietjie huiwerig om dié spesifieke Pandoraboksie te gaan oopvlek, maar gewapen met die wete dat die prokureursfirma se arme personeel hulle twyfelagtige reg aan privaatheid skoonveld weg geteken het met aanstelling, duik ek toe maar pens en pootjies in.

Aangesien meeste van die swelling in Internetgebruik na-ure plaasgevind het, was dit relatief maklik om ‘n kortlys van oortreders saam te stel en my bevindinge aan die rekenaarkomitee voor te lê.

Knap konsultant wat ek is, kon ek oortreder #1 op die lys binne minder as 3 minute identifiseer (‘n meer intensiewe ondersoek neem ongeveer 5 minute). Die getuienis teen dié perverse personeellid het behoorlik soos ‘n paal bo water uitgestaan.

Oortreder #1 word summier geklassifiseer as ‘n siek en bar mens, oor die vingers, hand, en verskeie ander liggaamsdele getik met ‘n laaaang liniaal (die tikker was effe lugtig om té na aan die getikte te kom, sien), en Dell Computers se span word getaak om So Spoedig Moontlik die betrokke rekenaar te kom ruil vir ‘n splinternuwe, onbesmette een.

Dell Computers se personeel het die vreemdste uitrustings aangehad ten tyde van die rekenaarvervanging. Ek het nog nooit soveel biologiese oorpakke, chirurgiese handskoene en lang tange in my lewe bymekaar gesien nie. (Okei, ek jok. Ek het al – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag).

Oortreder #2 op die lys was egter ‘n perd (meer spesifiek, ‘n merrie) van ‘n ander kleur, want sien – tannie Sannie was definitief glad nie die tipe mens van wie ek enige onsedelikheid sou verwag nie.

Tant Sannie was ‘n kerkmens – kuis, vroom, skaam, stil en teruggetrokke. Sy het elke etenstyd alleen gesit en hekel in haar klein kantoortjie. Doilies op die credenza, posters van oulike katjies teen die mure, haar e-mail boksie vol teksversies. Stemmige mens, tannie Sannie – betroubaar, lojaal en ‘n harde werker.

Ek het vir twee weke lank nagte wakker gelê met die dilemma.

Moet ek tannie Sannie summier oorlewer aan die rekenaarkomitee, sonder om te blik of te bloos? Of – moet ek dalk eerder skielik horende doof en sienende blind raak wanneer die komitee wil weet wie presies Onsedelike Oortreder # 2 is?

Daagliks kyk ek met totaal ander oë na tannie Sannie. Verskeie vrae maal deur my kop.

Sy’s ‘n kerkmens, maar… by watter kerk?
Sy hekel etenstye, maar… wat presies hekel sy?

Tannie Sannie noem op ‘n stadium terloops dat sy onlangs ‘n “jakoezie” laat insit het, in die knus privaatheid van haar woonstelletjie se agtertuin.

My verbeelding loop wilde en wye draaie met my. Ek kan my net indink hoe lekker dit oor naweke daar by haar plekkie moet gaan.

Prominente prokureursfirmas het gewoonlik prominente kliënte. Op ‘n dag kom teken ‘n bekende ‘Ryk’ swemmer aktedokumente by tannie Sannie.

Toe hy vort is, hoor ek tannie Sannie met heimwee in haar stem sug: “Ai… dis darem maar ‘n aantreklike jongman daardie… en so mooi gebou!”

My nek was behoorlik uit lit uit geruk vir amper drie dae. Ek begin twee en twee bymekaar sit. Speedos, swemmers en “jakoezies” – almal voëls van eenderse vere.

Dan ook – dit wat sy hekel tydens haar etenstye, is nie baie groot nie. As ek moes skat, sou ek sê… so min of meer die grootte van ‘n gespierde jongman se Speedo?

Na vele nagte van diepe wroeging en groot worsteling met die dilemma, skrik ek een oggend wakker met ‘n blink plan:

Ek gaan aand na aand in die kantoor langsaan wegkruip, totdat ek uiteindelik vir tannie Sannie op heterdaad betrap.

Dis heelwat beter dat net ons twee (ek en tannie Sannie) met bloedrooi gesigte sit – want anders gaan al die direksielede vir jare der jare, tot en met tannie Sannie se aftrede, agter bak hande vir mekaar fluister en giggel elke keer as hulle haar gewaar.

So gesê, so gedaan.

Ek spandeer vir twee weke lank my aande onder ‘n beknopte lessenaar, oorgehaal vir aksie.

Uiteindelik hoor ek daar’s beweging in die kantoor langsaan.

Ek spring op, stamp my kop ‘n helse hou teen die lessenaar, struikel oor die stoel, en bars by tannie Sannie se kantoordeur in.

“Ek hét jou, jou… jou… bar mens!” bulder ek uit volle bors met die instormslag.

‘n Skraal tienerseun, lakenbleek van die skrik, staar my met pieringoë aan terwyl hy stadig uit tannie Sannie se stoel gly tot op die mat.

“Liewe Bliksem Oom,” prewel hy toe hy tot verhaal kom, “ek het nou my melk skoon suur geskrik!”


By nabetragting:

Tannie Sannie het ‘n vroulike kollega wat soms tot laat werk by die firma. Wanneer dié kollega laat werk, word sy vergesel van haar tienerseun, sodat die seun sy huiswerk kan doen – in tannie Sannie se kantoor.

“Huiswerk.”

Tannie Sannie is toe eintlik doodonskuldig, en weet van g’n sout, water, Speedos of Olimpiese swemmers nie. Sy sit natuurlik salig en hekel in haar “jakoezie”. Wel… ek hoop sy doen…

* Tannie Sannie – nie haar regte naam nie.


Sluit gerus aan by ons Bakkiesblad!