Die prokureurs, die pornografie, en die preutse tannie

Baie jare gelede was ek as vryskut IT konsultant werksaam by ‘n prominente prokureursfirma in Pretoria.

Prokureurs is by verre dié moeilikste kliënte om te hê in die IT-bedryf, want dis mos nou nie mense wat jy sommer goedsmoeds met prokureurs kan dreig nie. Dreigemente soos dié val op dowe ore, of word summier begroet met ‘n histeriese gelaggery – gewoonlik sommer in jou eie teenwoordigheid.

Hoe dit ook al sy – in die 3 jaar wat ek verbonde was aan die spesifieke firma, was daar weinig vervelige oomblikke.

Veral tydens jaareindfunksies was dit verfrissend om te aanskou hoe die oudste van die ou tannies op die tafels dans, bloomers en pantaloons duidelik sigbaar.

Of om eerstehands oopmond te beleef hoe van die direksielede Robbie Wessels se Leeuloop met groot oorgawe en entoesiasme uitvoer, belde ontgord en styf tussen die boude vasgeknyp.

Op ‘n dag kom ek agter dat daar heelwat van die firma se Internetbandwydte gebruik word om ‘ongure’ webtuistes te besoek, veral na-ure. Soos wat dit ‘n goeie IT konsultant betaam, maak ek toe maar alarm by die firma se rekenaarkomitee.

Verskeie breë glimlagge word met groot moeite onderdruk, en ek word met die nodige erns (soos wat dit professionele prokureurs betaam) amptelik toestemming verleen om verdere ondersoek in te stel.

Ek was maar bietjie huiwerig om dié spesifieke Pandoraboksie te gaan oopvlek, maar gewapen met die wete dat die prokureursfirma se arme personeel hulle twyfelagtige reg aan privaatheid skoonveld weg geteken het met aanstelling, duik ek toe maar pens en pootjies in.

Aangesien meeste van die swelling in Internetgebruik na-ure plaasgevind het, was dit relatief maklik om ‘n kortlys van oortreders saam te stel en my bevindinge aan die rekenaarkomitee voor te lê.

Knap konsultant wat ek is, kon ek oortreder #1 op die lys binne minder as 3 minute identifiseer (‘n meer intensiewe ondersoek neem ongeveer 5 minute). Die getuienis teen dié perverse personeellid het behoorlik soos ‘n paal bo water uitgestaan.

Oortreder #1 word summier geklassifiseer as ‘n siek en bar mens, oor die vingers, hand, en verskeie ander liggaamsdele getik met ‘n laaaang liniaal (die tikker was effe lugtig om té na aan die getikte te kom, sien), en Dell Computers se span word getaak om So Spoedig Moontlik die betrokke rekenaar te kom ruil vir ‘n splinternuwe, onbesmette een.

Dell Computers se personeel het die vreemdste uitrustings aangehad ten tyde van die rekenaarvervanging. Ek het nog nooit soveel biologiese oorpakke, chirurgiese handskoene en lang tange in my lewe bymekaar gesien nie. (Okei, ek jok. Ek het al – maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag).

Oortreder #2 op die lys was egter ‘n perd (meer spesifiek, ‘n merrie) van ‘n ander kleur, want sien – tannie Sannie was definitief glad nie die tipe mens van wie ek enige onsedelikheid sou verwag nie.

Tant Sannie was ‘n kerkmens – kuis, vroom, skaam, stil en teruggetrokke. Sy het elke etenstyd alleen gesit en hekel in haar klein kantoortjie. Doilies op die credenza, posters van oulike katjies teen die mure, haar e-mail boksie vol teksversies. Stemmige mens, tannie Sannie – betroubaar, lojaal en ‘n harde werker.

Ek het vir twee weke lank nagte wakker gelê met die dilemma.

Moet ek tannie Sannie summier oorlewer aan die rekenaarkomitee, sonder om te blik of te bloos? Of – moet ek dalk eerder skielik horende doof en sienende blind raak wanneer die komitee wil weet wie presies Onsedelike Oortreder # 2 is?

Daagliks kyk ek met totaal ander oë na tannie Sannie. Verskeie vrae maal deur my kop.

Sy’s ‘n kerkmens, maar… by watter kerk?
Sy hekel etenstye, maar… wat presies hekel sy?

Tannie Sannie noem op ‘n stadium terloops dat sy onlangs ‘n “jakoezie” laat insit het, in die knus privaatheid van haar woonstelletjie se agtertuin.

My verbeelding loop wilde en wye draaie met my. Ek kan my net indink hoe lekker dit oor naweke daar by haar plekkie moet gaan.

Prominente prokureursfirmas het gewoonlik prominente kliënte. Op ‘n dag kom teken ‘n bekende ‘Ryk’ swemmer aktedokumente by tannie Sannie.

Toe hy vort is, hoor ek tannie Sannie met heimwee in haar stem sug: “Ai… dis darem maar ‘n aantreklike jongman daardie… en so mooi gebou!”

My nek was behoorlik uit lit uit geruk vir amper drie dae. Ek begin twee en twee bymekaar sit. Speedos, swemmers en “jakoezies” – almal voëls van eenderse vere.

Dan ook – dit wat sy hekel tydens haar etenstye, is nie baie groot nie. As ek moes skat, sou ek sê… so min of meer die grootte van ‘n gespierde jongman se Speedo?

Na vele nagte van diepe wroeging en groot worsteling met die dilemma, skrik ek een oggend wakker met ‘n blink plan:

Ek gaan aand na aand in die kantoor langsaan wegkruip, totdat ek uiteindelik vir tannie Sannie op heterdaad betrap.

Dis heelwat beter dat net ons twee (ek en tannie Sannie) met bloedrooi gesigte sit – want anders gaan al die direksielede vir jare der jare, tot en met tannie Sannie se aftrede, agter bak hande vir mekaar fluister en giggel elke keer as hulle haar gewaar.

So gesê, so gedaan.

Ek spandeer vir twee weke lank my aande onder ‘n beknopte lessenaar, oorgehaal vir aksie.

Uiteindelik hoor ek daar’s beweging in die kantoor langsaan.

Ek spring op, stamp my kop ‘n helse hou teen die lessenaar, struikel oor die stoel, en bars by tannie Sannie se kantoordeur in.

“Ek hét jou, jou… jou… bar mens!” bulder ek uit volle bors met die instormslag.

‘n Skraal tienerseun, lakenbleek van die skrik, staar my met pieringoë aan terwyl hy stadig uit tannie Sannie se stoel gly tot op die mat.

“Liewe Bliksem Oom,” prewel hy toe hy tot verhaal kom, “ek het nou my melk skoon suur geskrik!”


By nabetragting:

Tannie Sannie het ‘n vroulike kollega wat soms tot laat werk by die firma. Wanneer dié kollega laat werk, word sy vergesel van haar tienerseun, sodat die seun sy huiswerk kan doen – in tannie Sannie se kantoor.

“Huiswerk.”

Tannie Sannie is toe eintlik doodonskuldig, en weet van g’n sout, water, Speedos of Olimpiese swemmers nie. Sy sit natuurlik salig en hekel in haar “jakoezie”. Wel… ek hoop sy doen…

* Tannie Sannie – nie haar regte naam nie.


Sluit gerus aan by ons Bakkiesblad!

Eksamen flaters (deel 1)

Eksamen flaters
Waarvoor word beesvelle gebruik?
Om die bees binne te hou.

Wat is die verlede tyd van eet?
Honger

Wat is die verkleinwoord van oupa?
Kleinseun

Wat is die doel van die kies- en oogtande?
Die kiestande kou die kos en die oogtande kyk dat hulle die werk goed doen.

Voltooi die idioom: Hoe meer haas…?
Hoe groter is die haaspastei.

Wat is die meervoud van kabeljou?
Kabeljulle

Maak ‘n sin met “ter aarde bestel.”
Wie op ter aarde bestel so ‘n groot koek?

Vertaal in Afrikaans: “I beg you pardon?”
Huh?

Wat noem ons iemand wat velle looi?
‘n Onderwyser.

‘n Trivia SA intekenaar bieg: ek het verhoudings met ander mans

Verhoudings

(Bydrae ingestuur deur ‘n anonieme vroulike Trivia SA intekenaar.)


Ek wil vandag by julle bieg. Ek moet dit net met iemand deel en julle is tog my vriende, so ek hoop julle verstaan en verkwalik my nie.

In my getroude lewe het ek al verhoudings met ‘n hele paar ander mans gehad. Maak nie saak in watter dorp ons gebly nie. As ons in ‘n nuwe plek aankom, belowe ek myself om nie oor te gee aan die versoekings om te kyk watter talent die dorp bied nie. Maar nee, ek gaan stop gou genoeg by my nuwe vriendinne. Hulle weet gewoonlik waar ‘n mens dié tipe mans kan raakloop. En gewoonlik is ek nie teleurgesteld nie, en het ek ‘n nuwe man aan my sy.

Ek weet julle sal my nie glo nie, en ek maak nie verskoning vir my gedrag nie, maar ek kan nie sonder hulle lewe nie. Julle moet my maar so aanvaar. Gelukkig het my man al gewoond geraak aan al hierdie ander mans wat hy met my moet deel. Glo dit as jy wil – dit dra tot my skoonma se goedkeuring weg!

Ek kon nog nooit ‘n handige man weerstaan nie. Die meeste van my probleme kan my man self mee ‘n plan maak, en hy weet ook, die ander mans in my lewe help om van my ‘n beter vrou en mens te maak. Daarom gee hy nie te veel om nie. Hierdie mans is nie noodwendig goedkoop met hulle dienste nie, maar, om my gelukkig te hou is my man maar bereid om sy sak te skud vir my plesiertjies. Ek is voorwaar ‘n gelukkige vrou, want watter man sal sy vrou deel met soveel ander mans?

My eerste verhouding in my getroude lewe was met Mr Min. Ek het hom ontmoet net kort voor my troue. Ek wou eers niks met hom te doene gehad het nie, maar kon later net nie meer sy dienste weerstaan nie. En so met die jare het hy homself bewys. Ek kan na al die jare nog altyd op sy nommer druk. Boonop hou ek my kant van die saak silwerskoon.

Toe ontmoet ek vir Handy Andy. Hy is nie so rond soos Mr Min nie, en was bietjie meer veelsydig – en daarvan hou ek baie. Hy het my regtig gehelp om van al my hardnekkige probleme ontslae te raak, probleme waarvoor my man nie eintlik kans gesien het nie. Vir ‘n baie lang tyd het ek en die twee mans ‘n goeie verhouding gehad.

So drie jaar gelede stel Mr Min sy ouer neef aan my voor. Ek was hoflik, hom ongesiens van ‘n kant af bekyk en eers ignoreer. Ek het alles probeer om nie weer in die versoeking te val nie, maar dit is moeilik as jy hom elke dag in die winkels raakloop. Boonop het hy bietjie meer om die lyf en is nie bang om sy manlikheid te wys nie. Voor ek my kon kry, het ek vir Mr Muscle geval. Ek is tot vandag toe nog nie spyt nie.

Wat so handig is van hierdie verhoudings in my getroude lewe is dat ek meestal van hulle gebruik maak as my man nie by die huis is nie. Wat ek sonder Mr Battery, Mr Exhaust en Mr Tyre sou maak, weet ek nie. Hulle is wel bietjie duurder daarom maak ek net so nou en dan gebruik van hulle dienste. Gelukkig het die meeste van hulle ‘n waarborg.

As ek saans te eensaam raak en my man werk laat of gaan slaap vroeg, dan bel ek my goeie ou vriend, Mr Video. Hy gee nie om dat ek hom soms net nou en dan nodig het nie.  Ons het al ure saam deurgebring. Ons twee het al menigmaal saam gelag, saam gehuil en soms saam ons koppe geskud vir die mense. Wat lekker is van hom, is dat ek al die praatwerk aan hom kan oorlaat en net myself geniet. Boonop gee hy ook glad nie om as ek huil nie en gee ook glad nie om as ek in my nagklere loop nie. Hy aanvaar my net soos ek is, wat beteken hy sien kans vir al my buie.

Afhangende van die tyd wat ek op hande het, en ek behoefte het aan meer, bel ek vir Mr Delivery ook. Ek hoef nie eers agter hom aan te ry nie. Hy gee ook nie om om my met Mr Video te deel nie. Hy sorg gewoonlik vir pizzas, hoenderstukkies en ander heerlike eetgoed. Dis boonop twee verhoudings wat my man soms aanbeveel as hy sien sy ou vroutjie raak te eensaam of is doodeenvoudig net verveeld.

My nuutste verhouding is met die drieling en oor hulle is ek vreeslik opgewonde. Lyk my hoe ouer ek raak, hoe meer sien ek kans vir nog. Hulle kan nogal my sak ruk, veral as ek hulle al drie besoek. Dit is die nimlike Mr Price Home, Mr Price Clothing en Mr Price Sports.

Ek is seker teen die tyd verstaan julle my dilemma oor die mans in my lewe. Ek is ook seker julle is self skuldig. Wys jou nou net, mens moet nooit sommer iemand anders veroordeel voordat jy die hele storie ken nie. En wees eerlik met jouself, wat sal ons sonder hierdie mans in ons lewe gemaak het? Ek oorweeg nog die Four Cousins, maar ai, hulle kan so luidrugtig raak hoe later hoe kwater en ek is maar ‘n baie stil en op my plek tipe mens.

(Lorraine Brand via EgAfrikaans)


Het jy die artikel geniet? Sluit aan by ons op ons Facebook blad, waar jy nog meer pret kan hê (en as jy dalk Engels is, het ons fun ook beskikbaar).

Hier’s groot moeilikheid

Wanneer ma jou roep